6 April – Klein dade van gehoorsaamheid lei tot groot oes
Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. - Lukas 16:10 (AFR20)
'n Vers wat dikwils verkeerd aangehaal word om 'n punt te maak, wat nie die punt van hierdie teks is nie ...
Getrouheid in die klein dinge wys ons bereidheid om God te gehoorsaam - om te doen wat reg en wys is. God gebruik ons klein gehoorsame dade om 'n groot impak te maak, want Hy vertrou ons met nog meer verantwoordelikheid.
Hierdie vers, word baie maal eintlik verkeerd aangehaal. Dit word dikwels gebruik om te beklemtoon wanneer iemand dink sy werknemer is nie 'n goeie werker nie, of iemand wil skêl omdat hulle nie volgens hulle standaarde met geld werk nie. Dit het dalk 'n universële waarheid opsigself met die betekenisse van die woorde - maar die hoof fokus van hierdie teks handel rondom die gebruik van wêreldse rykdom (geld) om die Koninkryk te bevorder.
Hierdie is die tweede klein gelykenis van 3 (die verse voor en na hierdie vers). Die eerste gelykenis sê ons moet geld gebruik om vriende te maak vir die Koninkryk, d.w.s. geld gebruik om mense te bereik en deel te maak van God se koninkryk. Die tweede gelykenis, die een hier bo, verwys na wêreldse (geld) getrouheid met min geld en getrouheid met groot koninkryksverantwoordelikheid. Die derde gelykenis verwys na dat ons nie geld en God kan dien nie - ons moet kies. Daar is 'n ritme van die wêreld vs die Koninkryk. Die gebruik van wêreldse besittings met die Geestelike / Koninklike vrug.
Die opdrag in beide gelykenisse kom daarop neer dat ons geld, wys moet gebruik, om groot Geestelike vrug te kan pluk. Dit gaan oor om op 'n getroue en wyse manier geld so aan te wend, dat mense se lewens bereik kan word daardeur.