4 Mei – Waarheid bevry
Op u woord kan 'n mens hom geheel en al verlaat. Al u bepalings is regverdig. Hulle staan vas. - Psalm 119:160 (AFR83)
God se Woord staan vas. Sy Woord is waarheid en wanneer ons op God se Woord bou, dan word ons bevry en vind ons stabiliteit in ons lewe. Die waarheid maak seer, dit is nie lekker wanneer iemand ons teregwys nie of wanneer ons in die spieël moet kyk en tot verhaal moet kom oor ons omstandighede nie. Dit is nog minder lekker wanneer ons God se Woord lees en sien hoe vêr ons tekort skiet.
Daar is wel verligting en groot vreugde wanneer ons besef dat deur die werk van Jesus Christus, in wie ons glo, ons tot God kan nader en Jesus die brug is tussen ons en die Vader. Dit maak dat ek met vrymoedigheid tot God kan nader en in Sy teenwordigheid lewe.
Waar het jy vandag waarheid in jou lewe nodig?