26 April – Oorgawe elke dag
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg. - Lukas 9:23 (AFR20)
Om die Here te dien is nie iets wat ek net eenmalig besluit en dan is dit klaar en ek gaan hemel toe nie - hoorah! Nee, om die Here te dien is iets wat ek deurlopend doen. Die duiwel glo ook dat Jesus bestaan en hulle weet ook dat Hy die Seun van God is, maar hulle dien Hom nie.
Om elke dag jou kruis op te neem, beteken om elke dag agter Jesus aan te stap, om gehoorsaam te wees elke dag teenoor Sy opdragte en die Woord van God. Dit beteken dat ek elke dag moet "baklei" teen sonde en bewus moet wees dat ek myself en my sondige natuur moet kruisig.
"On the bright side" - hoef ons dit nie in ons eie krag te probeer doen nie, want die dag toe ons tot inkeer gekom het en Jesus aangeneem het as ons Verlosser, het ons ook die Heilige Gees ontvang wat saam met ons gees getuig dat ons Kinders van God is. Dit is hierdie Gees van God, wat ons ook die krag gee om elke dag ons kruis op te tel.
Elke dag moet jy opnuut 'n oorgawe maak en besluit of jy Jesus en Sy Woord gaan gehoorsaam, en of jy jou eie kop gaan volg.