9 Julie – Wanneer mense teleurstel
Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. - Psalms 118:8 (AFR20)
Dit is nie 'n kwessie OF mense ons teleur gaan stel nie, maar meer 'n kwessie van WANNEER. Dit is onafwendbaar. As ons werklike vertroue in die Here sit, dan sal ons nie verras of verbaas wees wanneer iemand ons teleurstel nie. Die probleem lê egter daarin as ons so gefokus is om op mense te vertrou en hulle stel ons teleur, dan is die skok en emosies baie groot. Dit tref jou hard en voel soos 'n groot terugslag.
Wanneer ons egter op die Here vertrou en by Hom skuiling vind, dan weet ons die Here gebruik mense en as een persoon ons teleurstel, dan weet ons die Here gaan iemand anders oor ons pad bring.
Daar is een waarskuwing en dit is om nie so gekant te wees teen mense wat wil help, omdat jy bang is vir teleurstelling. Die Here gebruik mense en ons moet gewillig wees om hulp of te aanvaar, maar ons moet dit aanvaar met die oog gevestig op Jesus en nie op die persoon wat ons bystaan nie.