6 Mei – Vang negatiewe denke
Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. - 2 Korintiërs 10:5b (AFR83)
Ons gedagtes is gevaarlik. Dit het die vermoë om jou op te werk of te verlei, of dit kan jou opbou en positief hou. Het jy al gedink aan iets wat iemand gesê het en jy speel dit oor en oor in jou gedagtes en jy verbeel jou hoe jy sal reageer en hoe daai persoon weer gaan reageer en voor jy jouself vind is jy so kwaad en opgewerk vir daai persoon en hulle is salig onbewus van die fiktiewe geveg wat julle in jou gedagtes pas gehad het nie... dalk is dit net ek! Maar wanneer dit gebeur, dan moet ek myself vang en herinner dat ek nie moet toelaat dat Satan my gedagtes laat dwaal nie.
My gedagtes moet ek gevange neem deur dit aan Jesus gehoorsaam te maak. Om dit te kan doen, moet ek weet wat die Woord van God van my verwag en ook wat die my leer oor Jesus en die Vader. Dit is ook iets wat ek aktief moet doen deur onmiddelik te stop, te bid en die Here te vra om my gedagtes te help beskerm en te orden.
Dit is nodig dat jy jou gedagtes toets om te kyk of dit positief of negatief is - jy moet herken wanneer die verkeerde gedagtes in jou kop is en dit aandag gee.
Jou gedagtes is belangrik, beskerm dit!