30 Oktober – Kies om reg te doen

30 Oktober – Kies om reg te doen
Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop? - Miga 6:8 (AFR20)

Doen net wat reg is. So eenvoudig - maar tog kan dit ook so moeilik wees. Die Here verwag nie wonders van ons nie. Hy verwag net getrouheid en om die pad saam met Hom te stap. Nederig saam Hom te stap, want ons weet nie alles nie en verstaan nie alles nie - maar God doen.

Die Here openbaar aan ons deur Sy Woord wat goed en reg is. Hy gee vir ons die Heilige Gees om ons te help onderskei wanneer ons onderskeid nodig het en Hy gee ook vir ons mense in ons lewens wat ons kan help om te doen wat goed en reg is.

Die keuse lê elke dag by my en jou om reg te doen. By die werk, in ons private lewe, teenoor die mense om ons. Waar ook al ons onsself bevind, moet ons saam met God wandel sodat ons verhouding met Hom kan uitspoel in ons lewe.

Waar het jy nodig om te kies wat reg is?