28 Mei - Wat binne is moet straal na buite
[4] Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! [5] Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. - Filippense 4:4-5 AFR20
Nors Christene. Het jy al sulke Christene raak geloop wat net ongelooflik nors is? Party mense het net daardie tipe gesigsuitdrukking. Dit beteken nie dat hulle binne in, onplesierige mense is nie, maar die feit dat Paulus opdrag gee om die vriendelikheid wat binne in ons ontstaan te wys vir die mense daar buite is 'n indikasie dat ons tog 'n keuse het of ons nors wil wees teenoor die mense om ons of vriendelik wil wees.
Wanneer ons ons vreugde in die Here kry, dan moet daardie blydskap na buite getoon word. Dit is moeilik om sout en lig te wees in hierdie wêreld as ons nie toeganklik is nie.
Vra jouself vanoggend af: is ek as kind van die Here toeganklik vir die mense om my?