1 min read

24 Mei - Vrede wat bly

24 Mei - Vrede wat bly
Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.” - Johannes 16:33 (AFR20)

In die tekste voor hierdie, verduidelik Jesus vir Sy dissipels dat daar 'n tyd kom wat Hy nie meer saam met hulle sal wees nie en dat hulle uit mekaar gejaag gaan word. Jesus beklemtoon dat hulle vrede in Hom moet vind en nie in die wêreld nie.

Dit is maklik om vrede te vind in die dinge om ons - vrede te soek deur sekuriteit te hê in my werk, verhoudings of veiligheid. Wanneer dinge nie goed gaan nie, dan kan dit ons beroof van ons vrede - mits on vrede in die Here vind dan sal dit wat om ons aan gaan nie ons vrede beroof nie.

Het jy al opgemerk hoe party kinders van die Here amper 'n bonatuurlike vrede om hulle het? Partykeer kom iemand oor my pad en ek beleef net hierdie ongelooflike vrede wat uit hulle straal en dit is iets wat 'n mens nie in hulself of die wêreld kan kry nie. Jy sien dit raak en weet onmiddelik - hierdie persoon moet 'n kind van die Here wees.

Vanoggend bid ek dat die Here vir ons sal help om in Hom vrede te vind - vrede wat sigbaar sal wees in ons lewens dat wanneer ons met mense te doen het - dit sal wys en hulle daaroor sal uit vra.