21 Maart 2023 / Blydskap en Vreugde / Jesaia 35:10

21 Maart 2023 / Blydskap en Vreugde / Jesaia 35:10
Photo by Peter Conlan / Unsplash
Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn. - Jes 35:10

'n Christen se lewe en gesindheid is veronderstel om deur blydskap en vreugde gekenmerk te wees. Dit is inderdaad een van die vrug van die Gees (Gal. 5:22).

Blydskap en vreugde is sinoniem met mekaar en vir die volgende rukkie gaan ek op hierdie tema stil staan, want blydskap en vreugde is iets wat ons almal behoort te beleef ongeag ons omstandighede. Die REALITEIT is egter dat baie Christene toelaat dat hul omstandighede hul vreugde en blydskap bepaal. Dus, is daar nie veel blydskap en vreugde in hul lewe nie, want ons omstandighede kan goed en sleg gaan en dan ry ons emosies wipplank, maar as ons ons vreugde in die Here vind, dan is dit altyd konstant en positief.

Dink 'n bietjie

Is blydskap en vreugde iets wat vollop in jou lewe is? Of is dit iets wat jy wens jy meer van gehad het?