1 min read

21 Julie – Gemeenskap vorm my

Yster slyp yster, en een mens slyp die aard van 'n ander. - Spreuke 27:17 (AFR20)
21 Julie – Gemeenskap vorm my
Yster slyp yster, en een mens slyp die aard van 'n ander. - Spreuke 27:17 (AFR20)

Ons almal het al op die een of ander manier in die Kerk op iemand se tone getrap... of hulle op ons tone getrap! In 'n gesin is daar partykeer rusie en onenigheid, maar soos baie gesinne doen - maak ons weer vrede en bly lief vir mekaar. Natuurlik nie alle gesinne kry dieselfde reg nie, maar wanneer ons Jesus bely en Hom dien, dan moet ons die knie buig en doen wat Hy van ons verwag deur te vergewe, lief te hê en te werk om verhoudings te herstel.

Verhoudings vorm ons. Net soos jy een harder yster gebruik om 'n sagter yster skerp te maak - so vorm vriende mekaar ook. Een vriend is dalk harder en skerper in 'n area as 'n ander vriend - en daardie vriend help om jou te vorm. OF dit nou is deur ondersteuning, vermaning, teregwysing of net om jou iets nuuts te leer. Die laaste ruk het ek die voorreg om so 'n vriend in my lewe te hê wat in baie opsigte 'n harder yster is as ek wanneer dit kom by sekere areas van my lewe en deur ons vriendskap, slyp hy my en help hy my om te groei. Dit is nie altyd lekker nie, maar ek is die Here baie dankbaar vir sy hulp.

Om iemand te hê wat jou kan slyp, beteken dat jy moet belê in verhoudings en verkieslik in verhoudings binne die gemeenskap van Christus, sodat jy Goddelike invloed kan kry.

Wie is tans besig om jou te slyp, en waar slyp jy tans iemand anders?