2 Mei – Wat ek glo, leef ek
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. - Romeine 12:2 (AFR83)
Wat vorm jou denke? As God ons verander deur ons denkte te vernuwe, dan beteken dit dat ons denke 'n direkte invloed het op ons lewe en ons karakter. Dit wat ek glo, leef uit. Dit wat ek glo vorm my besluite, my keuses, my redenasies en my psige. Ek het nodig om my denke met die regte dinge te voed, sodat ek 'n positiewe impak kan maak op my lewe.
Die Here wil ons lewens verander, maar dit kan nie gebeur as ons denke nie vernuwe word nie. Die eerste manier hoe ons denke vernuwe word is om oor te gee aan die Vader en die knie te buig voor Jesus Christus as ons verlosser en ons Koning. Ek moet dus Sy gesag aanvaar en dan begin ek met die Woord van God. Hoe meer ek die Woord van God leer en bestudeer, hoe meer leer ek van die Vader, Jesus en die Heilige Gees. Hoe meer ek van hulle leer, hoe meer kan ek hulle toelaat om my denke te vernuwe - en dus my hele lewe te verander.
Jy kan nie God dien, sonder om jou denke te vernuwe nie. Om iemand te dien, beteken om hul gesag te aanvaar en jou te laat beinvloed.