2 Julie – Gemeenskap vra betrokkenheid
Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom! - Hebreërs 10:24–25 (AFR20)
Gemeenskap gebeur nie vanself nie. Dit vra dat ons teenwoordig is en mekaar aanmoedig. Sonder gemeenskap, is dit moeilik om ons deel van die liggaam van Christus te vervul. Wanneer ons deel van die gemeenskap van gelowiges is, dan kan die Here ons gebruik om ons mede gelowiges te ondersteun, mekaar om te sien en op te bou. Ons help mekaar om geestelik te groei - partykeer omdat ons op mekaar se tone ook trap! :)
Dit is nie net ter sprake met Kerk bywoon op 'n Sondag nie. Jy kan Sondag kerk bywoon en glad nie betrokke wees of eintlik deel wees van die Liggaam van Christus nie. Dit is heel moontlik om Sondae kerk toe te gaan en totaal en al 'n buitestander te wees en om eensaam te voel.
As ek kerk toe gaan, as ek iewers ingeskakel is met ander mede-gelowiges - dan moet ek myself kwesbaar maak deur nader te beweeg aan ander mense. Om ander te leer ken, vriende te maak met ander en so kan ek die liefde en goeie dade wat die Here in my geplaas het uit leef teenoor dié om my.
Wat verhoed jou om meer betrokke te raak in jou gemeenskap van gelowiges?