19 Julie – Gasvryheid as getuienis
Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. - Romeine 12:13 (AFR83)
Wanneer ons gasvry is, dan skep dit ruimte om verhoudings te bou met mense en om ons getuienis met hulle te kan deel. As ons nie gasvry is nie, dan stoot ons mense weg of hou mense op 'n afstand. Dit is die bereidwilligheid om ander te help, om mense te akkomodeer ten koste van jou eie gemak of spasie. Dit hoef nie net teenoor medegelowiges te wees nie. Gasvryheid teenoor ongelowiges skep ook ruimte om te kan getuig.
So 'n rukkie terug was daar 'n buitelander wat in Suid Afrika kom toer het. Hy het uitgereik na my oor Instagram, 'n wild vreemde persoon, vir 'n bietjie hulp met sy toer planne. Ons het hom ontvang toe hy in die Kaap aan kom en bietjie leer ken en saam gekuier. Toe sy toer skielik baie vinnig tot 'n einde kom weens sy hulpbronne wat opgedroog het, het hy vir ons vertel hy is so 'n bietjie in die nood. Ons het 'n maatskappy gekry wat gereël het dat hy blyplek kon kry toe hy terug in die Kaap is en voor hy terug huistoe vlieg, het ons nooi hom genooi om die laaste aand te kom saam braai en kuier. Hy is nie 'n kind van die Here nie, maar daai aand het ons lekker lank gesit en kuier om die vuur. Dit het my op die ou einde van die aand geleentheid gegee om te kon getuig teenoor hom. Ons het 'n interessante gesprek gehad wat vir hom baie persoonlik was, maar die gesprek was 'n geleentheid waar ons kon praat oor iets wat baie belangrik en heilig is vir die Here en ek kon Jesus met hom deel.
As ek nie hom genooi het om by my te kom eet nie... ek kon baie verskonings en redes dink. Die ou se taal gebruik is nie mooi nie, hy is nie 'n kind van die Here nie... sy leefstyl is nie Goddelik nie... tog het ek moeite gemaak om hom te ontvang en dit het geleentheid geskep om Jesus te kon deel met hom.
Hierdie beteken nie ons moet net enigiemand in ons huis in nooi nie, maar wat dit beteken is dat wanneer ons gasvry is teenoor mense - sal hulle meer ontvangbaar wees sodat ons teenoor hulle kan getuig of dat hulle sal luister wanneer ons ons geloof en oortuigings met hulle deel.
Hoe kan jy gasvry wees en dit gebruik om die Here te dien daardeur?