14 Oktober - Jou morele kompas

14 Oktober - Jou morele kompas
“Ontsag vir die Here is 'n bron van lewe, sodat die vangstrikke van die dood vermy kan word.” - Spreuke 14:27 AFR20

Wanneer jy besluite moet maak, wanneer jy sekere gedagtes moet koester, hoe jy reageer, gaan bepaal word deur jou morele kompas. As jy ontsag het vir die Here, dan is Hy jou morele kompas, want jy wil Hom graag behaag in alles wat jy doen. As Hy nie jou kompas is nie, dan is iemand of iets anders jou morele kompas, en dit kan tot jou dood lei — in terme van jou geestelike dood, maar ook jou fisiese dood — wanneer ons verkeerde besluite maak.

Wanneer ons die Here dien en ons ontsag vir Hom het, beïnvloed dit ons hele wese. Dit beïnvloed ons denke, dit beïnvloed hoe ons optree, en dit beïnvloed hoe ons ons tyd, energie en hulpbronne aanwend. My hele lewe word daardeur bepaal.

Dit is uiters belangrik om dan naby die Here te lewe, om sy Woord te bestudeer, sy Woord te ken en te weet wat dit is wat Hy van ons verwag, sodat ons in ontsag vir Hom kan lewe.

Waar in jou lewe is daar areas wat nog nie aan die Here se gesag onderwerp is nie?