14 Mei - Vergelyking steel vreugde
Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van 'n ander te vergelyk. - Galasiërs 6:4 (AFR83)
Wanneer ons onsself met ander vergelyk, verloor ons maklik vreugde. God roep ons om ons eie pad getrou te loop.
Ek het onlangs die fout begaan om myself te begin steur aan 'n kompeterende besigheid en hoe hulle hard probeer in meng by my besigheidsverhoudings wat ek het met strategiese persone. Dit sit nie lekker by my nie en ek het myself gevang waar ek begin meer en meer kyk wat hulle doen en hoe hulle begin meer moeite maak om meer mark aandeel weer terug te wen.
Iemand het my oor die laaste naweek herinner dat wat ek doen en hoe ek dit doen is goed en ek moet net vorentoe kyk en fokus op dit waarmee ek besig is. Ek moet nie om my rond kyk en myself vergelyk met ander besighede wat teen my kompeteer nie, maar eerder fokus op dit waarin ek goed is en dit wat die Here my mee seën.
Ek het daai aand gesit en die Here gevra om my te help om nie sig te verloor nie en om my te help dat ek nie my sal traak met wat ander doen nie. Al wat saak maak op ou einde is om getrou te wees met wat voor my is en die Here te eer met wat ek doen.
Wat is daar in jou lewe waarmee jy jouself vergelyk wat jou vreugde steel?