12 Augustus – Vreugde in die Here
Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” - Nehemia 8:10-11 (AFR20)
“Hierdie dag is heilig vir die Here julle God. Moenie treur of huil nie!” Ja, die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die Wet hoor. Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” - Nehemia 8:10-11 (AFR20)
Die Volk het pas hul mure herbou en is veilig, na hulle in balingskap was. Daar is 'n sug van verligting nou dat die mure herstel is en die deure kan toe maak... maar hulle is steeds senuweeagtig dat hul vyande dalk enige oomblik aan hul deur kan klop. Toe hulle klaar gebou is, vra hulle vir Esra om die Wet van Moses te lees. Hulle raak hartseer en begin huil - ons weet nie hoekom nie. Dit kan verlange wees na die Woord van God, of sonde in hul lewe of net dankbaarheid. Esra gee hulle opdrag dat hulle nie moet hartseer wees nie, maar eerder hul vreugde in die Here vind en gaan partytjie hou.
Ons vreugde kan elke dag in die Here gevind word - ongeag ons omstandighede. Deur die Here te loof en prys, die bietjie wat ons het te geniet en met dankbaarheid die Here te eer. Om ons vreugde in die Here te vind gee vir ons vastigheid, 'n toevlug en 'n anker te midde van onsekere tye of wanneer ons wankelrig is. Vind jou vreugde in die Here, laat Hy vir jou krag en sekerheid gee en nie die mense of dinge om jou nie.