13 Junie 2022 / Markus 9:50 / Vrede
Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak? “Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.” - Mark 9:50
Sout gee smaak en dit preserveer. Sout was algemeen, maar ook 'n noodsaaklike deel gewees in die antieke wêreld en daarom het dit ook kommersiële waarde gehad.
As sout eers verslaan het of sy soutigheid verloor het, kan dit nie weer sout gemaak word nie en verloor dit sy hoof "doel" of funksie... om smaak te gee. Sout het die mag of vermoë om dit waarmee dit in kontak te kom, beter te laat smaak en as t ‘ware 'n positiewe impak te hê op dit waarmee dit in kontak kom.
Vir ons as Christene, is dit van uiters belang dat ons soos sout, seker maak dat ons soutig bly en die kosbare eienskappe wat die Here in ons aanwakker, behou om 'n seën te kan wees vir die mense om ons. Die Heilige Gees moet in en deur ons werk sodat ons heilig en rein sal bly, onbesmet, en nie ons "soutigheid" sal verloor nie.
Wanneer ons fokus op die Here is en ons daaraan werk om sout te wees vir die aarde, dan sal ons ook in vrede met mekaar kan lewe. Ons kan nie verwag om in vrede met mekaar te lewe, as ons ons soutigheid verloor het nie.
Aksie
Bid en vra vir die Here om jou te help sodat jy 'n positiewe impak kan hê op die mense met wie jy in aanraking kom.
Ek wil graag van jou hoor!
Kontak my gerus by [email protected].
Groete, Riaan