28 Maart 2023 / Wees bly oor beproewings / Jakobus 1:2-4
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. - Jak 1:2-4
Meeste van ons het 'n behoefte om geestelik volwasse te raak of om geestelik te groei, maar is ons bereid om deur die proses te gaan om geestelik te groei?
Beproewings is nodig, dit toets ons geloof en as ons dit deurstaan - help dit ons om verder te volhard in die geloof en dit kweek geestelike rypheid.
Dus, as ons bid dat die Vader ons help om geestelik te groei of om ons geloof te versterk, dan moet ons weet waarvoor ons onsself in laat! Jy moet verwag dat dinge gaan moeilik raak en beproewings oor jou pad gaan kom. Hoe sê hulle, "Buckle up! The ride is going to get bumpy!".
Sonder enige tekortkominge. Dit is hoe God jou geloof wil versterk. Is dit nie kosbaar nie? Ek wil 'n geloof sonder enige tekortkominge hê! Maar ek moet weet dat ek baie beproewings gaan moet deurstaan om dit te bereik.
Is jy reg daarvoor? Ek wil glo ek is!