25 Maart 2023 / Die een wat die lewe meer geniet / Spreuke 15:15
Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees. - Spr 15:15
Jou innerlike gemoed speel 'n veel groter rol in 'n mens se lewe en hoe 'n mens die lewe ervaar, as wat 'n mens besef. Daar is mense wat bedruk is; hulle is negatief oor sommer alles en die lewe voel vir hulle swaar. Sulke mense gaan deur die lewe met min vreugde en hulle vind fout by alles en sien nie sommer die positiewe raak nie. Sulke mense put 'n mens ook vreeslik vinnig uit.
Dan is daar mense wat 'n blymoedige gesindheid het en die lewe is vir hulle 'n fees. Dit beteken nie dat daar nie slegte omstandighede oor hul pad kom nie, maar dat hulle positief en opgewek is ten spyte van hul omstandighede. Vir sulke mense is die lewe baie meer pret en opwindend.
Ek glo nie die Here wil hê ons moet bedruk deur die lewe gaan en swaarmoedig voel nie. Die Here wil hê ons moet die lewe geniet en dat ons die meeste moet maak van elke geleentheid en oomblik; elke goeie ding en elke slegte ding.
Watter persoon is jy? Is jy 'n bedrukte mens of 'n blymoedige mens?