22 Maart 2023 / Wees bly in die Here / Filippense 4:4

22 Maart 2023 / Wees bly in die Here / Filippense 4:4
Photo by Alex Woods / Unsplash
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! - Fil 4:4

Ek kan nie help om die liedjie in my kop te hoor wanneer ek hierdie vers lees nie. Paulus gee 'n opdrag hier: wees bly in die Here. Gister het ek genoem dat blydskap en vreugde is iets wat ons deur die Here moet laat bepaal en nie ons omstadighede nie.

Ons moet bly wees in die Here, nie in dit wat om ons aangaan nie. Dit is te verwagte dat Christene nie altyd vreugdevol sal wees in elke situasie nie, omdat party situasies baie beroerd is. Wanneer ons onsself in so 'n situasie vind, dan vind ons vreugde in die Here - deurdat ons weet dat God se genade en liefde is vir my genoeg. Ons weet dat God vir ons krag gee en wanneer ons ons oë na die Here toe rig en tyd spandeer in Sy Woord, dan vind ons siel rus en vrede.

Verse 6 en 7 sê:

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Maak vandag 'n poging om wanneer iets skeefloop of nie gaan soos jy beplan nie, om op daardie oomblik te bid en jou fokus op die Here te plaas. Elke keer wanneer iemand jou dalk kwaad maak of jy frustreerd voel - stop dadelik wat jy doen en bid. Kyk of die Here jou help en jou gemoed optel en versterk.