8 Mei 2023 / Respekteer kinders / Kolossense 3:20-21

8 Mei 2023 / Respekteer kinders / Kolossense 3:20-21
Photo by Sebastián León Prado / Unsplash
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. - Kol 3:20-21

Ek is seker dat baie mense dit vreemd hoor as ek sê, respekteer kinders. Moet dit nie gewoonlik anders om wees nie? Kinders moet die volwassenes respekteer... kinders moet gesien word en nie gehoor word nie... maar tog is daar heelwat verse wat vir ons wys dat kinders is vir Jesus baie belangrik.

Ons moet kinders respekteer, eerstens, omdat hulle deur God gemaak is - maar ook omdat daar verse in die Woord is wat vir ons wys dat dit belangrik is om op te let hoe ons met kinders praat en hulle hanteer.

'n Kind se gees of karakter kan baie gou deur 'n ouer geknak word as die ouer heeltyd fout vind by hulle of wat hulle doen. Mag die Here ons ouers genadig wees en bewaar dat hulle nooit die rede is dat hulle kinders moedeloos is en hul gees geknak is nie.

Dalk is jy een van hierdie kinders gewees, of tans is, wie deur hul ouers moedeloos gemaak is en "geknak" is. Indien wel, dan wil ek jou vra om eerstens die persoon te vergewe, maar dan ook vra om op jou identiteit en karakter in God en Sy Woord te vind en nie net in jou ouers nie. Ouers maak foute, maar God maak nooit foute nie. Hy stel nie teleur nie. Vind jou troos en vreugde in die Here. As jou ouers reg op treë, dan is dit 'n bonus! En iets om voor dankbaar te wees.