6 Junie 2023 / Wat offer jy op? / Handelinge 4:32-35
Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. - Hand 4:32-25
Die vroeë kerk was gekenmerk deur hul bereidwilligheid om hul besittings met ander gelowiges te deel wie behoeftig was. Hier sien ons dat hulle nie net een in hart en siel was nie, maar dat hulle ook mede-gelowiges gedien het deur hul besittings te deel.
Een komponent van diensbaarheid in die liggaam van Christus behels ook finansiële bydrae en ondersteuning onder mekaar. As jy sien iemand kry swaar en jy het iets om te deel, moenie wag dat iemand anders eers help nie - neem inisiatief en probeer iemand help waar jy kan.
In een van Johannes se briewe skryf hy dat solank as wat jy iets het, kan jy met iemand iets deel. Dit gaan oor ons gesindheid en bereidwilligheid om iemand anders te help, ten koste van onsself.
Dink 'n bietjie
Is jy gou om aksie te neem as jy sien iemand kry swaar of is in nood? Of skroom jy, ignoreer dit eers en hoop iemand anders help eerder?