26 April 2023 / God se teenwoordigheid / Sagaria 2:13

26 April 2023 / God se teenwoordigheid / Sagaria 2:13
Photo by Samuel Martins / Unsplash
Wees stil voor die Here, al wat leef! Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn! - Sag 2:13

Daar is 'n hele paar verse wat in die OT vir ons wys dat daar 'n heilige en eerbiedige respek vir God se teenwoordigheid was.

Nou, dit is moeilik om te sê dat ons moet stil wees in God se teenwoordigheid. Party mense sal sê ons moet fluister in die kerk of nie praat nie, ander sal weer 'n geweide atmosfeer op 'n ander manier wil hê. Die probleem is, hulle lug gewoonlik hierdie menings ten opsigte van die Kerk se erediens, MAAR God is nou alomteenwoordig en ons het die Heilige Gees binne in ons. Dit is nie meer soos die Ou Testament waar die mense moes wag op God se teenwoordigheid nie.

Ek glo wel dat daar orde in die Kerk moet plaas vind, soos Paulus voorskryf, maar ons moet wel versigtig wees om ander nie te oordeel omdat hulle dalk nie so geweid soos ons is in 'n kerk erediens of dieselfde instelling as ek en jy het gedurende 'n diens nie.

Party mense verkies 'n stil, geweide atmosfeer - daar is kerke daarvoor. Ander mense verkies weer 'n wakker, lewendige en vriendelike en opwindende atmosfeer - daar is kerke daarvoor ook. Mens kan nie elke tipe persoonlikheid in 'n kerk akkomodeer nie - en dit is okay :)

Een ding moet ons wel oor seker wees en dit is dat ons respek vir God moet hê. Dus, as jy besig is om God te aanbid, gee Hom jou volle aandag! As jy bid, sit jou fokus op Hom. As ons net ons gedagtes 'n bietjie stiller kan kry, dan mag ons dalk meer bewus wees van Sy teenwoordigheid - en hoe kosbaar is dit nie!