24 Maart 2023 / Verheug in swaarkry / 1 Petrus 1:6-9
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap. - 1 Pet 1:6-9
Wanneer dit swaar gaan, moet ons onsself daarin verheug. Dit klink amper nie reg nie. Hoe kan die Here verwag dat ek moet bly wees wanneer dinge verkeerd gaan? Petrus meen hierso dat ons bly moet wees wanneer beproewings oor ons pad kom, ondat dit ons geloof toets en ons geloof versterk. Verder, bring dit eer aan God wanneer ons die beproewings kan weerstaan en saam met dit sien ons uit na Jesus Christus se wederkoms.
Dit voel vir my makliker gesê as gedaan... maar ek dink iets wat ons dalk aan moet dink is dat alles in die lewe word benader deur ons perspektief of die bril wat ons aan het. As ons 'n ewigheidsperspektief het en ons kyk na die wêreld en ons lewe deur God se bril, dan sal ons dalk anderste reaggeer wanneer ons onsself in allerhande situasies bevind.
Watter bril het jy aan vandag? Hoe gaan die bril wat jy aan het, beïnvloed hoe jy reaggeer wanneer beproewings oor jou pad kom?