23 Oktober / Jy het rus nodig / Levitikus 23:3
“Ses dae moet julle werk, maar die sewende dag is ’n rusdag, ’n sabbat waarop julle ’n gewyde byeenkoms moet hou. Dan mag julle geen werk doen nie. Julle moet die sabbat aan die Here wy, waar julle ook al woon. - Lev. 23:3
Die mens is gemaak om te werk, maar ons het ook rus nodig. Sonder 'n dag van rus sal ons uit brand. Dit is nie volhoubaar om 24/7, die heeltyd te werk nie.
Vir die Israeliet het hulle geweet dat hulle op die Sabbat moet rus. Dit was tweesydig; Eerstens was dit 'n dag van rus (Eks. 20:8-11; Gen 2:1-3), maar tweedens was dit 'n dag van herinnering van toe die Here hulle uit slawerny van die Egiptenare gered het (Dt. 5:15; Lev. 23:43).
Alhoewel ons nie die tweede deel van toepassing op ons het nie, is die eerste deel waar; dat ons moet rus. Of jy nou op 'n Saterdag of Vrydag of Sondag rus, is ontewe. Wat belangrik is is dat jy wel 'n tyd maak om bietjie af te skakel. Dit is nodig om jou werk goed te kan doen, om na jouself om te sien en om fisies en geestelik sterk te bly.
Dink 'n bietjie
Maak jy genoeg tyd vir rus? Wanneer jy rus, rus jy werklik of hou jy jouself besig met dinge wat jou eintlik net verder moeg maak?