21 Oktober / Nuwe Tema: Werk / Genesis 3:17-19
Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” - Gen. 3:17
Meeste van ons moet werk om aan die lewe te bly... om 'n bestaan te maak. Dit is van die begin van die grondlegging van die aarde as 'n straf vir die mensdom se sondes deur God ingestel. Party mense sien ons het die voorreg om nie te werk nie omdat daar vir hul deur ander of hul familie gesorg word, maar terwyl party dink dit is dalk 'n voorreg - kan dit ook 'n onreg wees wat hul aangedoen word.
Ek weet nie van jou nie, maar werk is nie altyd lekker nie. Dit is moeite en ons werk hard en lang ure wat nie altyd lekker is nie, maar daar is weer die satisfaksie wat ons beleef wanneer ons hard werk en terug kyk na dit wat ons gedoen- en reggekry het.
In die werksplek is daar geen tekort aan stories, klagtes, grappies en frustrasies nie... Die Bybel het heelwat om vir ons te leer oor die onderwerp van werk: vanuit die oogpunt van die werknemer sowel as die oogpunt van die werkgewer.
Nuwe Tema
Vir die volgende ruk gaan ons na beide kyk soos ons na kern verse in die Bybel kyk. Indien jy weet van iemand wat by hierdie tema kan baat vind, deel asseblief kortliks met hulle en nooi hulle om te subscribe of om die WhatsApp Groep aan te sluit.