21 April 2023 / 'n Waardige Offer / Maleagi 1:6-8

21 April 2023 / 'n Waardige Offer / Maleagi 1:6-8
Photo by Milada Vigerova / Unsplash
’n Seun eer sy vader en ’n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige, vir júlle vra, priesters, júlle wat My met minagting behandel. Maar julle vra: “Hoe het ons U met minagting behandel?” Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: “Hoe het ons U te na gekom?” Julle doen dit wanneer julle dink: “Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word.” Wanneer julle ’n blinde ding bring om te offer, is dit dan nie verkeerd nie? En wanneer julle ’n siek of ’n lam ding bring, is dit nie verkeerd nie? Bring bietjie so iets vir jou goewerneur! Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang? Dit is wat die Here die Almagtige sê. - Mal 1:6-8

God spreek Israel aan en wys vir hulle dat hulle dade nie pas by wat hulle bely nie. As Israel sê hulle is Kinders van God, dan moet hulle Hom as Vader eer. As Israel 'n dienskneg van God is, dan moet hulle Hom eerbiedig. Die woord eerbied word in die Engels vertaal as "respect", wat ook beteken "fear". Dus sê God hier dat as Israel behoort God te eer en 'n heilige vrees vir God te hê.

God gaan verder en kla hulle aan dat hulle verminkde diere as 'n offer bring. Hulle bring nie hul beste nie, nie eers hul tweede beste nie, maar hul verminkde diere. Hulle sal dit nie waag vir 'n goewerneur gee nie, maar hoe dan vir God?

God verwag absoluut, 100%, die beste wat ons het om op die tafel te sit. Is dit nie maar eintlik met ons ook so nie... dat ons vir God die "scraps" gee wat oor bly? As ek genoeg tyd het... dan sal ek.... As ek maar net meer geld gehad het.. dan sal ek.... Ek is te moeg om... Dit is te veel moeite vir....

Het jy al 'n verskoning gehad wat met een van hierdie woorde begin het? Ons moet ons lewens vir God as 'n heilige en lewendige offer bring. Maar wat bring ons vir hom eintlik? Sit ons ons beste op die tafel en gee ons 110% vir die Here of is dit wat ons na die tafel toe bring, 'n halwe poging om net ons gewete te sus?

Of dit nou jou tyd, geld, vermoë, talente, hulpbronne OF jouself is; wat ookal jy vir die Here gee - gee jou beste! Dit is wat God van ons verwag.