2026 is om die draai
2025 se deure is al amper toe, en terwyl daar nog net ’n paar dae van die jaar oor is, trek Kortliks weer my aandag. Ek ervaar hoe die Here dit opnuut op my hart druk om weer tyd en fokus daaraan te gee.
Kortliks was aanvanklik ’n tydelike projek wat ek op die been gebring het te midde van al my ander aanlyn bedienings. Dit kon egter nog nooit my volle aandag geniet nie. Sedert my laaste plasing is my eerste kind gebore, en nou—2,5 jaar later—is my tweede een om die draai.
Ek besef daar is nooit genoeg tyd vir alles nie, maar Kortliks lê al ’n geruime tyd swaar op my hart. Na vanoggend se erediens het die Here dit weer duidelik gemaak dat ek doelbewus tyd moet opoffer vir die Koninkryk—al is dit net ’n bietjie. Sonder huiwering het Kortliks weer in my gedagtes opgekom.
Die Pad Vorentoe
In 2026 wil ek doelbewus fokus op Kortliks se daaglikse nuusbriewe wat per e-pos uitgestuur sal word, sowel as die groei en bediening van die WhatsApp-groep en die nuwe Kortliks Facebook-blad.
Een uitdaging wat ek reeds vir 2026 voorsien, is die kostes verbonde aan ’n nuusbriefplatform. Daaglikse e-posnuusbriewe is nie goedkoop nie, maar ek vertrou dat die Here voorsiening sal maak en dat daar ’n volhoubare manier sal wees om dit te befonds.
Kortliks bly vir my ’n eenvoudige, maar doelgerigte manier om die Woord en bemoediging daagliks met ander te deel—selfs al is dit net ’n paar woorde op die regte tyd.
Ek beplan om Kortliks in 2026 op die volgende maniere uit te bou:
- Daaglikse e-posnuusbrief met óf ’n Bybelvers vir bemoediging of uitdaging, óf ’n tema of onderwerp om oor te bepeins en waaroor die gemeenskap kan terugvoer gee.
- ’n WhatsApp-groep met daaglikse Kortliks-plasings vir gesprek, bemoediging en interaksie.
- ’n WhatsApp Channel vir diegene wat kanale bo groepe verkies en net die inhoud wil ontvang.
- ’n Geleentheid vir subscribers om kortliks getuienisse te deel wat, met toestemming, moontlik geplaas sal word om ander te bemoedig.
- Met die regte hulpbronne beplan ek om ’n 365 Kortliks Dagstuk-boek vry te stel—’n saamgestelde versameling van vorige plasings wat netjies gebundel word vir daaglikse gebruik.
Hoe kan jy Kortliks help?
- Bid asseblief dat die Here my die nodige dissipline, wysheid en inspirasie sal gee vir 2026, sodat Kortliks met groter impak gebou kan word—alles tot eer van Sy Naam.
- Bid ook vir voorsiening vir die fondse wat nodig is om hierdie platform volhoubaar aan te hou aanbied en dit steeds gratis beskikbaar te hou.
- Deel gerus die nuusbrief en blog met jou vriende en familie. Dit bemoedig my ongelooflik om te weet dat die moeite en tyd nie tevergeefs is nie, maar ander se harte raak.
Paulus se Gebed vir Efesiërs
Ek los jou met Paulus se kragtige gebed in Efesiërs 3:14-21:
Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Die Bybel Nuwe Vertaling. electronic ed. (1998). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, p. Eph 3:14–21.
Mag ons waarlik God se liefde ten volle begryp, dit wortel skiet in ons hele wese, sodat almal met wie ons in aanraking kom Christus se liefde sal ervaar.