2 Junie 2023 / Dien met God se krag / 1 Petrus 4:11
As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen. - 1 Pet 4:11
Hier word iets baie belangrik genoem: ons moet dien met die krag wat God ons verleën. Ons gebruik die gawes wat God ons gee om mekaar te dien, maar dit is God wat die gawe bekragtig en ons die krag gee om dit te kan doen. As ons op ons eie vermoë of talente moet staat maak dan sal dit nie VOLHOUBAAR wees nie.
Ons moet ook besef dat God dalk vir ons partykeer meer en minder krag gee, dus is dit nie altyd moontlik om volstoom besig te wees nie, maar ons moet beskikbaar en gewillig wees om te dien en te luister na die Here.