18 April 2023 / Tema: Respek / 1 Petrus 2:17
Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. - 1 Petrus 2:17
Ons begin met 'n nuwe tema, 'n kort tema, maar tog 'n belangrike tema: respek. Dankie vir almal se voorstelle, ek het dit neergeskryf en sal eendag by hulle uit kom... vir nou wil ek kortliks op Respek fokus (dankie aan Oom Dup Venter se voorstel).
In 1 Petrus 2:17 word die Christen se burgerskap-gedrag opgesom met 4 opdragte of elemente: respekteer alle mense, wees lief vir jou medegelowiges, vrees God en eerbied die gesag wat God in plek gestel het.
Ons moet alle mense respekteer omdat God elke persoon uniek en anders gemaak het, en veral omdat elke persoon God se skepping is. Ongelukkig is ons net werklik in staat om respek vir alle mense te hê wanneer ons 'n heilige ontsag en eerbied vir God het. Die woord "vrees" wat hier gebruik word, beteken "reverence, awe" (1). Wanneer ons 'n werklike en diepe ontsag en eerbied vir God het, dan sal die gevolg wees dat ons alle mense die nodige respek toon.
Dink 'n bietjie
Het jy respek vir alle mense? Het jy respek uit eerbied vir God en gehoorsaamheid aan God en hierdie opdrag?
Dieper vraag: Dink jy hierdie opdrag om respek te toon, geld vir almal? Of hulle dit dalk verdien of nie? Of is dit meer 'n kwessie van om respek te toon waar dit verdien / nodig is?