10 April 2023 / Getuies na die opstanding / Handelinge 13:30-31
Maar God het Hom uit die dood opgewek. Hy het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea af na Jerusalem toe gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk. - Hand 13:30-31
Die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het en die graf leeg is, is nie iets wat ons net sommer vir soetkoek hoef op te eet omdat een persoon dalk so sê nie, maar is iets wat ons ernstig moet opneem en aanvaar omdat Jesus se verskyning deur menigte mense bevestig word wie Hom dae na Sy dood gesien het.
Ander gelowe is gebasseer op een man se storie of visioen van gebeure en hulle bou hul hele geloof op een man wat iets gesien of beleef het, maar met Christenskap is dit 'n kwessie van menigte mense wat fisies kan getuig dat hulle Jesus gesien het en ons het hierdie gebeure geskiedkundig hier vasgepen.
Dit is nie iets wat ons oor hoef te twyfel en wonder nie. Menigte mense het al dit verkeerd probeer bewys, maar wanneer hul ernstig akademies na die feite en getuies kyk - het hulle tot bekering gekom. Twee van hulle is vandag bekende skrywers: Lee Stroebel en Josh McDowel.
Moenie laat iemand jou ooit vertel dit is net stories nie. Daag hulle uit en sê as hulle regtig so dink, dan moet hulle die navorsing gaan doen en eerlik na die bewyse kyk. God is 'n God van waarheid en van feite en dit is te dankie aan God se plan van hoe die Woord en gebeure saamgestel is en vasgepen is, dat Sy Woord gestand bly - Homself verdedig en Sy Woord beskerm.