Brand jy soos wierook?
Ons moet soos wierook vir Christus brand, sodat die wêreld die aangename geur van die Evangelie kan ruik waar ook al ons heen gaan. En saam met dit, dat ons nie die evangelie sal verkondig om geld te maak nie, maar dat ons dit sal doen soos God die taak aan ons op gelê het.
[14] Maar dank aan God, wat ons altyd deur Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. [15] Want ons is 'n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – [16] vir laasgenoemde 'n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde 'n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? [17] Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus. - 2 Korintiërs 2:14-17 (AFR20)
Een van my gunsteling tekste uit 2 Korintiërs 2. Ons moet soos wierook vir Christus brand, sodat die wêreld die aangename geur van die Evangelie kan ruik waar ook al ons heen gaan. En saam met dit, dat ons nie die evangelie sal verkondig om geld te maak nie, maar dat ons dit sal doen soos God die taak aan ons op gelê het.
Wat is 'n Romeinse Triomftog?
In die tyd van die Romeinse Reik, het hulle 'n triomftog gehou elke keer wanneer 'n generaal terug gekom het van 'n oorlog waarin hy suksesvol was. Die generaal sou by die stad aangekom het met die goud en silwer wat hy geplunder het, sowel as die slawe en gevangenes wat hy geneem het. Die nuus sou die Keiser bereik en dan sou die Keiser opdrag gee dat 'n triomftog gehou moet word deur die stad om die oorwinning aan te kondig en om met die generaal te spog. Vir hierdie kort tydjie, word die generaal of wie ook al die oorwinning behaal het - verhef tot die status van Keiser en die mense aanbid en sing lof tot die generaal. Dit was 'n groot eer. Die generaal sou 'n lang tou vorm met al die slawe en gevangenes wat hy geneem het en hulle sou vooruit stap, gevolg deur al die goud en silwer en die generaal wat volg. Soos hy deur die stad stap, sou die mense orals wierook aan die brand steek om die triomftog mee te seëvier en hulle sing en dans en bring lof en eer aan die generaal. Die wierook sou dig hang in die stad en vir die oorwinnaars was dit 'n soet reuk van oorwinning, maar vir die slawe en gevangenes was die soet reuk 'n doodsreuk gewees, want aan die einde van die triomftog sou hulle moontlik dood gemaak geword het.
Paulus gebruik hierdie skerp illustrasie om te verduidelik dat God ons deel maak van Sy triomftog, deur Jesus Christus. Jesus het Sy oorwinning oor die dood aangekondig toe Hy aan die kruis gesterf en weer uit die dood opgestaan het. Ons word deel van hierdie Triomftog van God en wanneer ons die kennis van Christus versprei, is dit soos soet wierook wat ons versprei. Vir diegene wat die Evangelie aanneem, is dit 'n soet reuk van lewe, maar vir dié wat in hul sonde verhard - is dit 'n onaangename reuk.
Soos wat ruik jy?
So my vraag aan jou (en aan myself) is dit: brand jy? Is jou lewe 'n brandoffer vir die Here? Versprei jy die Kennis van God orals waar jy heen gaan en volg die soet reuk van die Evangelie jou rond? Wanneer jy met mense te doen kry - kry hulle meer kennis van God of ruik jy soos die wêreld?