9 Mei 2023 / Respek by die werk / 1 Timoteus 6:1-2
Gelowiges wat as slawe onder ’n jukstaan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde. - 1 Tim 6:1-2
Die verhouding tussen ons en ons baas / werksplek is dieselfde gesindheid tussen die slaaf en sy baas. Die slaaf staan in diens, net soos ons in diens staan by die werk in ons pos.
Die beginsel wat ons hier lees is 'n interessante een, want dit is eintlik 'n reël wat orals toegepas behoort te word: Ons moet met respek optreë teenoor ons werksplek en baas / kollegas sodat niemand ooit na ons gedrag en optrede kan vinger wys en sleg praat van God en ons Christelike lewenswyse nie.
Ek luister gister na 'n getuienis wat 'n vriend aangestuur het en in die video vertel die spreker dat as jy wil sien hoe lyk Christenskap, moenie na Christene kyk nie, want hulle is die slegste voorbeelde. Hy sê kyk na Jesus. Jesus stel die perfekte voorbeeld.
Hoe ons by die werksplek optreë moet altyd respekvol wees teenoor ons werkgewer, of hulle dit verdien of nie. Ons moet respekvol optreë omdat ons God verteenwoordig in die werksplek en dit is daardie mandaat wat ons moet dryf en motiveer - veral wanneer ons dit dalk ondraaglik vind. Juis dan.