9 Desember / Rus van fisiese werk / Hebreërs 4:8-10

9 Desember / Rus van fisiese werk / Hebreërs 4:8-10
Photo by Tevin Trinh / Unsplash
As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ’n ander dag gepraat het nie. Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. - Heb. 4:8-10

Hierdie is 'n moeilike teks om alles wat hierin vasgevang is oop te breek. Dit sal behels om terug te verwys na die Ou Testament, toe Joshua die beloofde land in geneem het en die verwysing van die sabbatsrus wat na verwys word selfs nadat die Volk die beloofde land in geneem het, wat ook toe net tydelik was.

Wat ek wel op wil fokus hier is die gedeelte waar ons lees dat elkeen van ons wat in die rus van God in gaan, moet van sy eie werk rus. Soos God die voorbeeld vir ons gestel het, moet ons Sy voorbeeld volg. Die voorbeeld wat gestel is, is om van fisiese werk afskeid te neem vir 'n periode, om te kan rus.

Wanneer ons 24/7 werk, dan plaas dit ons onder baie druk en ons kry nie tyd om aandag te gee aan dinge in ons lewe wat ook belangrik is nie. Hoeveel dinge skeep jy af as gevolg van die heeltyd werk? Hoeveel goed stel jy uit omdat jy nie daarvoor kans kry nie? Ons reserwes raak min en wanneer ons reserwes min raak, dan werk ons ook minder effektief.

Ek persoonlik sukkel om tyd af te vat, om te rus en selfs om met vakansie te gaan. Ek hou van besig bly. Wanneer ek myself dwing om gereeld te rus en ook 'n bietjie af te vat - dan vind ek dat ek aan nuwe idees begin dink en ek kom terug werk toe met meer ywer en passie en energie.

Hoe sal jou lewe daarby baat vind as jy meer tyd maak vir fisiese rus op 'n meer gereeld basis?