9 April 2023 / Hy leef, daarom leef ek / Johannes 11:25-26
Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” - Joh 11:25-26
Vandag is opstandingsdag, die graf is leeg en ons Here Jesus lewe! Ek dink nie Marta en Maria het presies verstaan wat Jesus hier bedoel nie, maar Jesus het mag oor lewe en dood. Jesus self is die opstanding en die lewe. Ons almal gaan eendag sterf, maar dit wat hierna kom is wat saak maak. Dit maak saak, want wat na hierdie lewe kom gaan of met of sonder die Here Jesus wees.
Wat ek in hierdie lewe glo en doen gaan bepaal hoe ek my ewigheid spandeer. Omdat Jesus uit die dood op gestaan het, kan ek deur Hom uit my geestelike dood op staan. Al wat dit verg is my geloof in Hom en dat Hy is wie Hy sê Hy is.
Ken jy Jesus Christus as die Een wie uit die dood opgestaan het? Die een wat een is met God, die Skepper? Of is Jesus vir jou net 'n mooi idee en iemand met mooi leerstellings en beginsels?