8 April 2023 / Regter en sonde / Job 19:27-29

8 April 2023 / Regter en sonde / Job 19:27-29
Photo by Tingey Injury Law Firm / Unsplash
Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie. Ek smag daarna met my hele lewe. As julle dan sê julle wil my vervolg, die wortel van die kwaad by my opspoor, moet júlle die swaard vrees, want in sy toorn straf God die sonde met die swaard. Dan sal julle weet dat daar ’n regter is.” - Job 19:27-29

Dit is Paasnaweek en wanneer ek elke jaar met die kruisiging en opstanding oor Jesus Christus besin, dan kan ek nie help om herinner te word aan God se absolute heiligheid en ook Sy genade nie. God is 'n heilige en regverdige regter en geen regter sal sonde ongestraf laat nie, maar tog het God in Sy groot genade en barmhartigheid aan ons Sy Seun, Jesus Christus gegee as losprys in ons plek. Sodat ons nie die straf hoef te dra nie, maar die ewige lewe kan kry.

Ek dink ons neem dit te ligtelik op en besef nie die volle omvang hiervan nie. Ds Eric Swanepoel het vanoggend die Goeie Vrydag boodskap gebring (https://www.youtube.com/live/LrJ4-2ijNcU) en hy het iets vir die gemeente gevra wat my nogals opgeval het. As mense 'n Kerk in ons dorp sou op blaas en sê hulle plant 'n bom by elke kerk die volgende Sondag en dat hulle almal gaan dood maak - wie van ons sou Kerk toe gekom het die volgende Sondag? Sou ons by die huis gebly het, of ons sou steeds bymekaar gekom het. Hy het dit gevra na aanleiding van die vervolging wat kerke in Egipte beleef het en die mense geweier het om by die huis te bly. Dit het my nogals baie hieroor laat dink en ek dink dis iets wat ons onsself moet af vra.

Ietsie om oor na te dink oor hierdie naweek:

Op watter vlak lê my geloof en getrouheid teenoor die Here?


'n Persoonlike Woord

Ek is jammer dat ek 'n paar oggendboodskappies gemis het. Ek wil vir almal dankie sê wie op gevolg het toe ek stil raak sonder enige kennisgewing.

Ek was druk besig in my af tyd om voor te berei vir die Kaapstad Messe Skou wat 1-2 April plaas gevind het. Ek maak messe as 'n stokperdjie na ure en hierdie was my eerste skou. Ek was baie opgewonde, maar het elke aand tot baie laat gespook om klaar te kry vir die skou. Die skou was 'n groot sukses en dit was ongelooflik lekker om so baie mense te ontmoet en te leer ken. Dit is 'n groot voorreg om so 'n geleentheid te kan hê waar mens met mense connect.

Na die skou het ons dadelik in die pad geval Loeriesfontein toe en vir die res van Lydingsweek het ons omtrent nie wi-fi of sein gehad nie!

MAAR (My Afrikaanse juffrou se woorde weergalm in my kop, "mens begin nie 'n sin met maar nie!") ek is nou weer tuis en terug op my pos!

Dit is persoonlike terugvoer van julle, die lesers, wat my bemoedig om aan te hou en ek wil vir julle dankie sê dat julle die pad saam met my stap hier by Kortliks.

Ek wil jou asseblief vra, help my om die blog uit te brei deur die dagstukkies en webblad met jul vriende en familie te deel en vra hulle om te SUBSCRIBE. Ek waardeur jou hulp!

Die Here seën,

Riaan