6 Oktober / Is selfbeheersing genade? / Titus 2:11-14
Die gesonde leer van die Evangelie is goed vir ons.
Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. - Ti. 2:11-14
Wanneer ons die reddende genade van God werklik verstaan dan stel dit ons in staat om nee te sê vir sonde en die wêreldse begeerlikhede en ons leer om met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug op te treë.
Die gesonde leer van die Evangelie (waaroor hierdie gedeelte gaan) en die Waarheid van die Woord is goed vir ons en dit help ons om 'n regte lewenswyse voor God te kweek.