31 Maart – Gebed vir swaar tye
Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees. - Romeine 15:13 (AFR20)
God is ons bron van hoop, blydskap en vrede - selfs gedurende moeilike tye. Dit is moeilik om dit te begryp... hoe kan ek hoop, blydskap en vrede beleef wanneer dit swaar gaan en ek vreeslik sukkel. Die gedagte dat 'n mens hierdie drie eienskappe kan beleef en vir ander ten toon stel wanneer dit regtig swaar gaan - is een van die bewyse wat ons as Kinders van die Here het dat God waarlik is wie Hy sê Hy is en dat die Heilige Gees waaragtig deur ons op 'n wonderbaarlike manier kan werk.
Hierdie hoop, blydskap en vrede waaruit ons kan tap laat ons toe om 'n lig te wees in 'n donker wêreld en in 'n donker situasie. Dit is my en jou geleentheid om 'n getuienis vir Christus te wees.
Gedurende swaar en moeilike tye - moet nie soveel op jouself fokus nie. Vra eerder die Here om jou hoop, blydskap en vrede te gee sodat jy 'n voorbeeld en getuie kan wees van die krag van die Heilige Gees wat binne in jou is.