29 September / Is God jou eerste liefde? / Openbaring 2:4

29 September / Is God jou eerste liefde? / Openbaring 2:4
Photo by Alex Woods / Unsplash
Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. - Op. 2:4

Die gemeente in Efese was ongeveer 43 jaar voor hierdie brief deur Paulus gestig toe Paulus in Efese begin preek het en die kerk daar gevorm het. Paulus was baie beindruk met hierdie gemeente wat baie toegewyd teenoor die Here was. Teen die tyd wat Johannes hierdie brief aan hulle skryf was hulle die 2de generasie Christene in die kerk. Hulle het goeie teologie gehad, hulle het met ywer valse leraars uit gewys en alhoewel hulle goeie en suiwer leringe gehad het, het hulle hul eerste liefde vir God verloor.

Hulle het God met hul hande en voete gedien, maar nie met hul hart nie. Dit bly vir my 'n herinnering dat ek altyd seker moet maak dat ek die Here werklik lief het en Hom dien. Ek kan die beste lering hê en alles reg doen in die Kerk, maar as ek nie ware liefde vir God het nie dan beteken dit niks.

Ek gesels vandag met 'n man by wie ek iets koop en ons begin praat oor kerke, denominasies, Christen tradisies ens. en die man beklemtoon die gedagte dat meeste Christene weet nie hoe om die Evangelie te verduidelik nie, of hulle sê hulle is kinders van God, maar hulle buig nie werklik die knieg voor Jesus nie. Hulle ken nie die basiese beginsels in die Skrif eers nie.

Om Jesus te dien en lief te hê beteken dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan Jesus. Geheel en al, pens en potjies. Niks gaan oor my nie. Al het ek dit hoe maklik of moeilik, ek is nie hier vir myself nie... ek is hier vir God se agenda en om God te dien beteken dat ek my eie lewe verloën / neerlê en myself 100% aan Jesus toewy.

Oordenking

Is God jou eerste liefde? Indien wel, reflekteer jou lewe dit?