26 Mei 2023 / Belofte van trou / Maleagi 2:15-16
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie. - Mal 2:15-16
Daar is een belofte wat ek glo mense maak en hulle nie die erns van die belofte besef nie en dit is die belofte van trou.
Wanneer 'n mens trou, word daar 'n belofte teenoor jou vrou / man en die Here gemaak. Ons word gesê om nie beloftes te maak nie, tensy ons dit kan na kom nie. Egskeiding is geweld in die oë van die Here. Dit doen eerstens afbreek aan die belofte wat ons maak voor God en teenoor ons maat, maar dit doen ook skade aan die verhoudings en betrokke partye, sowel as aan die beeld van Christus.
Ja, daar is gevalle waar egskeiding geregverdig word, maar sjoe die huwelik is vir die Here so kosbaar. Ons moet regtig hard daaraan werk om ons huwelike te koester en te beskerm, sodat ons hou by ons belofte van trou.
Ek onthou toe ek en my vrou getrou het, hoe die woorde wat ons in daardie oomblik sê so gelaai gevoel het, want ek het besef die erns van die belofte wat ek maak. Wanneer ek ander mense moet trou, dan is ek tot 'n mate bang, want ek weet nie altyd of die party wie ek trou regtig die erns en belangrikheid van die saak besef nie. Mens kan hulle probeer voorberei en leer, maar op die ou einde van die dag is dit 'n saak tussen hulle en die Here en hul maat.
Pas jou huwelik op, werk daaraan. Hou jou belofte wat jy gemaak het!