25 Augustus / Het jy lief? / 1 Johannes 4:7

Jy kan vir my of jouself jok en sê baie naby, maar die bewys lê in hoeveel liefde daar in jou lewe is vir jou naaste en selfs jou vyande.

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. - 1 Joh. 4:7

1 Johannes 4:7-21 is 'n baie belangrike deel wat handel oor "God is liefde".

Johannes begin met hierdie gedeelte dat ons, dit is diegene wie hulself Christene noem en wie wedergebore is, mekaar moet liefhê. Die rede vir hierdie opdrag? Liefde kom van God af en as ons 'n verhouding met God het en naby aan God lewe, dan sal God se liefde ook in ons lewens teenwoordig wees.

Elkeen wie liefhet is 'n kind van God en ken God, skryf Johannes... maar dit verwys natuurlik na liefde in die Christelike terme. En wat is daardie terme? Gaan lees die vorige 2 weke se dagstukkies wat oor liefde handel en jy sal sien dat liefde behels om God, myself en my medegelowiges onvoorwaardelik lief te hê, om myself te gee vir my naaste - om bereid te wees om my lewe neer te lê.

As ek wil weet hoeveel liefde jy vir ander het, dan hoef ek jou net een vraag te vra:

Hoe goed ken jy God? (Of selfs, hoe naby lewe jy aan God?)

Jy kan vir my of jouself jok en sê baie naby, maar die bewys lê in hoeveel liefde daar in jou lewe is vir jou naaste en selfs jou vyande.

Gebed

Dit is my gebed dat jy God sal ken op 'n intieme vlak en naby Hom sal lewe sodat daar geen twyfel sal wees of jy 'n Kind van die Here is nie en dat almal om jou God se liefde sal beleef.