24 September / Hulle wil jy nie lief hê nie / 1 Petrus 2:17
Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. - 1 Pet. 2:17
Dit is al klaar moeilik om almal lief te hê... partykeer is dit maklik om lief te wees vir mense, maar die mense wie onder jou vel in klim of wie jou te na kom; hulle is moeilik om lief te hê. Let wel, moeilik - nie onmoontlik nie.
Petrus gee opdrag om (1) almal te respekteer, (2) jou broers en susters in Christus lief te hê, (3) om God te vrees en (4) die Keiser te eer.
Die Keiser te eer... dis die koning... die een wie aan bewind is, onder wie die Christene en vroeë Kerk swaar gekry het. Laat dit vir 'n oomblik in sink. Petrus gee opdrag dat as gelowiges moet ons die Keiser eer - d.w.s. respekteer! God verwag van ons om respek te hê vir die regeerder van die land. Nie omdat hy dalk goed is of dit verdien nie, maar omdat God die een is wie konings en regeerders aan en af stel. Die Bybel sê nie dat God net "goeie" mense as konings aanstel nie.
Dit is 'n taai toffie daardie. As jy 'n Kind van God is en jouself as geestelik volwasse beskou, dan moet jy respek hê vir die president omdat hy deur God aangestel is. Ons mag dalk nie daarvan hou nie, maar ons mag nie sleg praat van wie ookal aan bewind is nie.
Eish.