24 Oktober / Geniet dit / Prediker 5:17-19
Ek het ook iets gesien wat goed is: dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom ’n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. God gee aan ’n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van God. So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee. - Pred. 5:17-19
Werk kan 'n mens mismoedig maak, met die gedagtes van waarvoor werk 'n mens? Jy werk so hard en hou basies nooit op met werk nie. Salomo kyk na die positiewe aspek van werk en sê dat die mens die vrug van sy arbeid moet geniet.
Alles wat ek en jy het kom van God af en God gee dit vir ons om te kan geniet. Vir party gee die Here min en vir ander gee Hy baie, maar dit wat Hy gee moet ons geniet.
Ons moet vreugde vind in ons werk en die min of baie wat ons daaruit kry moet ons geniet sodat ons vreugde in die lewe kan ervaar. Om hierdie vreugde te kan ervaar; waar jy hard werk en iets daaruit kry, is 'n gawe van God. Al is dit net die brood nodigste, God wil hê ons moet daarin vreugde vind en dit geniet.
Wanneer ons fokus op die Here is en op Sy voorsiening - dan lewe ons met die bewussyn dat alles kom van Bo en ons het 'n ingesteldheid om die lewe meer te geniet. Dit... is 'n geskenk van God.