22 Augustus / Liefde die belangrikste vrug / Galasiërs 5:22-26

Die maatstaf vir hoe geestelik volwasse iemand is, word bepaal deur hoe sigbaar die vrug van die Gees in hul lewe is.

22 Augustus / Liefde die belangrikste vrug / Galasiërs 5:22-26
Photo by Philippe Gauthier / Unsplash
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie. - Gal. 5:22-26

Die vrug van die Gees is die eerste en hoof maastaf vir hoe geestelik volwasse 'n Gelowige is. Nie vir hoe goed sy of haar teologie is nie; nie hoeveel kennis hul van die Woord het nie en ook nie ouderdom nie. Die maatstaf vir hoe geestelik volwasse iemand is, word bepaal deur hoe sigbaar die vrug van die Gees in hul lewe is.

Van hierdie vrug is liefde die belangrikste, maar wat ons wel hier lees is dat liefde eintlik die omvattende eienskap is. Wanneer jy liefde het, dan moet die res van die vrug sigbaar wees. Die res is nie werklik opreg moontlik tensy jy liefde het nie. Ds Johan (Tygerberg Gesinskerk) het eenkeer dit so verduidelik. As liefde die lemoen is, dan is die res van die eienskappe wat genoem word, die skyfies binne in die lemoen.

Self-ondersoek

'n Boom word geken aan sy vrugte... watter vrugte dra jy?