20 September / Die hoof motivering / 1 Korintiërs 16:14
Laat alles by julle in liefde geskied. - 1 Kor. 16:14
Elke dag van ons lewe moet ons besluite neem. Ons moet besluite neem by die werk, by die huis, besluite wat nie net myself nie, maar ander mense ook raak.
Baie van die besluite wat ons neem of die dinge wat ons doen en sê het 'n rede waarom daardie besluit of aksie geneem moet word. Daar is 'n motivering agter elke aksie wat ons dryf. Of dit nou is om 'n opdrag uit te voer, of om iets te doen waarvoor ons lus is of selfs iets in reaksie tot wat met ons gebeur het...
Wat ookal die rede is, moet liefde altyd eerste in ons gedagtes wees. Opdragte by die werk uit voer, of ons daarvan hou of nie... uit liefde vir God moet ek my werkgewer respekteer. Wanneer ek met mense werk, moet liefde die hoof dryfkrag wees.
Alles wat ek doen moet uit liefde ontstaan. Wanneer ek dit reg kry, dan sal my lewe baie anders lyk. Alles wat ek aanpak sal ek reg aanpak en op die regte manier hanteer.
Vandag
Probeer om elke ding wat jy vandag doen en aanpak, en die besluite wat jy neem op te weeg teenoor liefde en vra jouself af hoe hierdie besluit of aksie beïnvloed sal word deur liefde.