20 Junie 2023 / Gee jou beste by die werk / Kolossense 3:23

20 Junie 2023 / Gee jou beste by die werk / Kolossense 3:23
Photo by Van Tay Media / Unsplash
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. - Kol 3:23-24

Ons het 'n verantwoordelikheid teenoor die Here wanneer dit kom by die werksplek. Die konteks van hierdie vers gaan oor slawe wat vir hul eienaars werk en hul gesindheid teenoor die werk wat hulle doen.

Ons het 'n verantwoordelikheid teenoor ons werkgewers en ons werk om altyd ons beste te gee. Nie omdat ons dit noodwendig aan hulle skuld nie, maar omdat ons dit vir die Here skuld - omdat die Here dit van ons verwag. Ons moet ons beste vir die Here gee en dit geld vir ons werk ook.

Dit is partykeer maklik om by die werk dalk lyf weg te steek, om net die nodige te doen sodat daar nie vrae gevra word nie, of om dalk partykeer selfs oneties op te treë waar 'n mens weet mens nie gevang kan word nie en dit dalk 'n grys area is... maar vir die Here moet ons ons beste gee. Ons moet daarom die ekstra myl gaan by die werk. Ons moet eienaarskap neem van ons werk en werk asof dit ons eie besigheid is.

Wanneer dit kom by werknemers, is daar twee tipe werkers... een wat werk soos 'n slaaf en een wat werk soos die eienaar se kind. Die een doen wat nodig is en verwag word. Hy stap op die minuut uit en is net betyds by die werk. Die ander een, neem eienaarskap en hy doen wat nodig is om die besigheid vorentoe te dryf. Hy gee nie om oor werksure nie, hy bly tot die werk klaar is en hy neem trots in sy werk. Hy gaan die ekstra myl.

By jou werk

Watter een van die twee is jy by die werk? Is jy die slaaf of die eienaar se kind? Pak jy alles aan asof jy dit vir die Here doen?