2 Oktober / Persoonlike oorwinning / Spreuke 16:32
’n Geduldige mens het meer waarde as ’n bedrewe vegter, ’n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem. - Spr. 16:32
Wat is makliker? Om as 'n soldaat 'n stad in te neem en beheer / oorwinning oor die stad te kry? Of om selfbeheersing toe te pas? Hierdie Spreuk maak dit duidelik dat selfbeheersing is iets wat glad nie maklik is nie, maar dit is iets waarna ons behoort te strewe.
Iemand wat goeie selfbeheersing kan toepas is baie geseënd en pluk die vrug daarvan. Dit is nie maklik nie en elkeen van ons kan dink aan areas in ons lewens waar ons goeie selfbeheersing toepas en areas waar ons sukkel.
Dit is vir my opmerklik hoe maklik ons na ander mense kan kyk en vinger wys en sê hulle moet bietjie meer selfbeheersing toepas, maar dan vergeet ons van die areas in ons eie lewe waar ons so misluk en geen selfbeheersing kan toepas nie. Of dit nou kos, oefening, geld, kerk, werk, geestelik en selfs ons tong en gedagtes is... wat ookal dit is, ons moet streef om selfbeheersing toe te pas.
Ons moet net versigtig wees dat ons nie dink ons is beter af as 'n ander persoon omdat ons selfbeheersing kan toepas in 'n area wat hy of sy nie kan nie. Ons is nie altyd so grênd soos ons dink ons is nie :)
Gebed
Here, selfbeheersing is iets wat ons weet glad nie maklik kom nie. Help my asseblief om selfbeheersing beter toe te pas in die areas waar ek dit nodig het. Ek is bewus van my tekortkominge, maar ek weet ek kan dit ook nie alleen aan pak nie. Gee my asseblief die krag om dag tot dag meer selfbeheersing toe te pas.