2 Augustus / Markus 12:29-30 / Liefde

Die Skrifgeleerde kom na Jesus toe en vra vir Hom watter gebod is die heel belangrikste. Dit blyk nie asof hy Jesus probeer uit vang nie, maar dat hy weens hul "tradisie" van redenering oor die belangrikste gebod regtig belangstel wat Jesus dalk dink of te sê het.

2 Augustus / Markus 12:29-30 / Liefde
Photo by Pascal Garten / Unsplash
Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ - Markus 12:29-30

Die Skrifgeleerdes het baie "opdragte" in die wet van Moses gehad, ongeveer 613 individuële opdragte of gebooie en daar was gedurig onder die Skrifgeleerdes gedebateer oor watter van daardie opdragte of gebooie van groter belang was teenoor ander.

Die Skrifgeleerde kom na Jesus toe en vra vir Hom watter gebod is die heel belangrikste. Dit blyk nie asof hy Jesus probeer uit vang nie, maar dat hy weens hul "tradisie" van redenering oor die belangrikste gebod regtig belangstel wat Jesus dalk dink of te sê het.

Jesus begin met die shema van Deuteronomium 6:4-5 en beklemtoon die belangrikste gebod is om God lief te hê met jou hele wese. Wanneer jy iemand met jou hele wese lief het, dan doen jy alles vir daardie persoon; jy dra hul belange op die hart; jy maak tyd vir die persoon en jy wil die persoon ook nie teleurstel nie.

God verwag dieselfde van my en jou. Nie om God net met ons lippe te dien nie, maar met ons denke, ons aksies en met ons hart.