19 Mei 2023 / Ons moet volhard / Hebreërs 10:36-39
Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.” Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe. - Heb 10:36-39
Om God se beloftes te ontvang behels dat ons moet volhard in die geloof. Jy sal sien na die laaste paar plasings dat meeste van die beloftes wat ek aanhaal verwys na redding en bemoediging in moeilike tye. Jy mag dalk wonder, maar wat van beloftes waar dit goed sal gaan met my? Of dat ek goeie gesondheid of finansies sal hê? Ons kom nog daar... dalk... want die realiteit is dat Jesus het nooit vir Sy dissipels voorspoed belowe nie. Hy het nooit geld of gesondheid of veiligheid belowe nie. Inteendeel, Jesus het belowe dat daar vervolging sal wees en dat die wêreld Sy volgelinge sal haat.
Daarom hanteer meeste van die verse oor gelowiges wat moet volhard in die geloof, want die belofte waaraan ons vashou is die ewige lewe saam met die Vader en dat die Vader vir ons die krag sal gee in hierdie lewe, om deur te druk.
Alles meer as dit - is net genade en 'n seën van bo!