16 Januarie – Vertrou, maar beplan
Vertrou op die Here met jou hele hart –op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. - Spreuke 3:5-6
Oordenking:
Hier is twee gedagtes of opdragte hier ter sprake wat elkeen op sy eie gehanteer kan word, maar hulle hoort saam. Om op die Here te vertrou en om ons planne aan hom bekend te maak gaan hand in hand met mekaar. Ons moet op die Here vertrou, maar ons moet ook 'n plan hê. Ons hoef nie die regte plan te hê nie, ons kan onseker wees met ons planne, ons planne mag selfs verkeerd wees.
Die wonderwerk lê in die feit dat wanneer ek my planne aan die Here bekend maak en in volkome vertroue wandel – dan kan ek weet ek gaan op die regte pad loop omdat God my lei in my dag tot dag besluite. Ek hoef nie alles vooruit te weet nie, ek moet net vertou en Hom in alles ken.
Vraag / Uitdaging:
Ken jy die Here in alles wat jy doen? Of vertrou jy soms op jou eie insigte by sekere aspekte van jou lewe?
Gebed:
Here, ek bring my onsekerheid na U toe. Help my om op U te vertrou met my hele hart, selfs wanneer ek nie verstaan nie. Help my om meer gefokus te wees dat ek al my planne gedurig aan U bekend maak en dat ek vrede sal hê, ongeag die uitkoms. Amen.